Skip to content

Wat is die waarde van onderhoudvoering met die doel om profiele binne die konteks van die korporatiewe joernalistiek oor nuuswaardige mense te skryf? (Leoné Prinsloo – 22086706)

May 21, 2012

“As jy regtig van plan is om ‘n indiepte onderhoud met iemand te voer, dan moet jy nogal baie van daardie persoon af weet, sekerlik genoeg om te kan weet wanneer hy/sy nie die waarheid praat nie asook wanneer hy/sy nie die hele storie vertel nie.” –  Barbara Walters van ABC News

Daar word dikwels binne joernalistieke kringe gesê dat die voer van onderhoude met die doel om profiele oor beroemdes, berugtes en alledaagse mense te skryf in staat is om die reputasie van ‘n joernalis te kan maak of te kan breek.  Die vraag is egter hoe relevant dit binne die konteks van korporatiewe joernalistiek is waar daar slegs met interne belangegroepe gekommunikeer word. 

Dit is interessant om daarop te let dat die volgende riglyne wat deur Ferreira & Staude (1991:45-46) in Write angles-the abc for house journals aan korporatiewe joernaliste vir onderhoudvoering en profielskrywery in personeelblaaie of nuusbriewe gegee word grootliks ooreenstem met die riglyne wat aan die gewone joernaliste vir berigte in koerante of artikels in tydskrifte gegee word, naamlik:

  • Doen navorsing oor die persoon en sy/haar ondervindingsveld voor die onderhoud.
  • Daag stiptelik vir die onderhoud se afspraak op.
  • Berei jou vrae met die 5 W’s en die H in gedagte voor.
  • Hou die onderhoud verkieslik binne die persoon se tuisgebied om meer inligting oor sy familie- en gesinslewe op ‘n subtiele wyse te kan bekom. 
  • Stel die persoon op sy/haar gemak deur hom/haar iets te vra wat heeltemal onverwant tot die betrokke onderhoud is.
  • Neem altyd notas selfs al het jy ‘n rugsteun in die formaat van ‘n bandopnemer byderhand.
  • Verkry ‘n mengsel van feite en opinies oor die ondervraagde persoon om ‘n interessante profiel oor hom/haar te kan skryf.
  • Plaas direkte aanhalings binne aanhalingstekens om te verhoed dat die ondervraagde persoon buite konteks aangehaal word of dat ‘n opinie aan hom/haar toegeskryf word wat nie aan hom/haar behoort nie. 
  • Respekteer die vertroulikheid van die persoon met wie jy die onderhoud voer.
  • Merk die belangrikste feite of goeie aanhalings terwyl jy notas neem sodat jy jou profiel oor die betrokke persoon later makliker sal kan struktureer. 
  • Vra oop-einde vrae waarvan die antwoorde nie slegs ‘n ja of ‘n nee kan wees nie as die persoon met wie jy die onderhoud voer ‘n bietjie traag is om met jou te gesels.
  • Vra altyd die persoon met wie jy die onderhoud voer om die name van mense en plekke asook enige tegniese terme vir jou te spel om onnodige foute te verhoed.
  • Maak seker dat jy die onderhoud se konteks reg begryp het wanneer die afgespreekte tyd verby is om enige latere misverstande uit die weg te ruim. 

 

Die skryf van profiele kan help om die volgende doelwitte van die personeelblad of nuusbrief binne die korporatiewe joernalistieke omgewing te bevorder, naamlik:

  • Dit erken die prestasies van die personeel.
  • Dit motiveer die personeel van die organisasie.
  • Dit bevorder trots in die organisasie.
  • Dit moedig die werknemers aan om meer betrokke te raak by die organisasie. 

Die korporatiewe joernalistiek spits hom meer op die interne belangegroepe van ‘n spesifieke organisasie toe terwyl die gewone joernalistiek hom weer meer op die eksterne belangegroepe van die breë publiek toespits.  Daar kan egter ten spyte hiervan steeds tot die gevolgtrekking gekom word dat die riglyne en formaat daarvan nie te veel van mekaar verskil nie aangesien daar binne elke teikenmark belangrike persone is oor wie onderhoude gevoer kan word waarby hul lesers ‘n belang sal hê.

From → Uncategorized

Leave a Comment

Leave a comment