Skip to content

Hoe kan die korporatiewe kultuur van ‘n organisasie deur ’n toepaslike kombinasie van die bladuitleg en inhoud van ‘n personeelblad of nuusbrief ondersteun word? (Leoné Prinsloo-22086706)

Image

Die bogenoemde vraag kan waarskynlik as die kernuitgangspunt van die hele module, KCOM 371 se Afdeling A vanaf Leereenheid 1-3 beskou word wat daarop gemik is om die joernalistieke beginsels van KCOM 121 en die bladuitlegbeginsels van KCOM 211 binne ‘n korporatiewe omgewing met mekaar te kan versoen.

Die organisasiekultuur bepaal die kommunikasiestrategie aangesien die spesifieke taal en boodskap wat in ‘n personeelblad of nuusbrief gebruik word dikwels uniek aan die organisasie is.  Sodra die doelwitte van die maatskappy eers vasgestel is, bepaal Ferreira & Staude (1991:17) in Write angles-the abc for house journals dat die die kommunikasiestrategie op grond van die volgende vrae hersien kan word, naamlik:

  • Wat is die maatskappy se missie, kultuur en waardes?
  • Wat is die sentrale boodskap van die organisasie?
  • Waarheen is die organisasie oppad?
  • Wat is die vyf hoofdoelwitte van die organisasie?
  • Wat is die sleutelboodskappe wat die doelwitte van die organisasie beskryf?
  • Wat sal dit vir die organisasie en sy mense beteken indien hierdie doelwitte nagekom word?
  • Wat is die swakhede van die organisasie?
  • Waaraan moet die werknemers binne die organisasie spesifiek met verwysing na hulle moraal, motivering en spanwerk aandag skenk?

Die antwoorde op die bogenoemde vrae moet nou met die formaliteit van die skryfstyl asook die aanwending van die basiese uitlegbeginsels soos kontras, balans, ritme, proporsie, eenheid en kleur in verband gebring word sodat ‘n koherente eenheid geskep kan word waardeur die hoofdoelwit van die betrokke organisasie verder versterk kan word. 

Kom praat gerus saam as jy enige verdere voorstelle het oor maniere waarop ‘n organisasie kan verseker dat sy hoofboodskap en kommunikasiestrategie deur middel van die basiese joernalistieke en bladuitlegbeginsels die kultuur daarvan kan uitbou en versterk.  Ek groet julle dan nou vir hierdie semester met die woorde van Chris Hedges, voormalige korrespondent van The New York Times, naamlik:  “Joernalistiek handel oor die oordrag van inligting wat nie omgee wat jy dink nie.  Die verslaggewing van uitdagings, teenbevelle of destabilisering van gevestigde gelowe.  Verslaggewing begin op die voorwaarde dat daar dinge is wat ons moet weet en moet verstaan, selfs al maak hierdie dinge ons ook ongemaklik.”  Met hierdie woorde in gedagte moet julle die komende semester eksamen vreesloos aanpak totdat ons hier by journo’sjournal371 julle dan in die tweede semester vir Afdeling B bestaande uit Leereenheid 4-7 van hierdie jaarmodule, KCOM371 met nog hope nuus, idees en besprekings oor die wese van korporatiewe joernalistiek sal vergesel.

Wat is die waarde van onderhoudvoering met die doel om profiele binne die konteks van die korporatiewe joernalistiek oor nuuswaardige mense te skryf? (Leoné Prinsloo – 22086706)

“As jy regtig van plan is om ‘n indiepte onderhoud met iemand te voer, dan moet jy nogal baie van daardie persoon af weet, sekerlik genoeg om te kan weet wanneer hy/sy nie die waarheid praat nie asook wanneer hy/sy nie die hele storie vertel nie.” –  Barbara Walters van ABC News

Daar word dikwels binne joernalistieke kringe gesê dat die voer van onderhoude met die doel om profiele oor beroemdes, berugtes en alledaagse mense te skryf in staat is om die reputasie van ‘n joernalis te kan maak of te kan breek.  Die vraag is egter hoe relevant dit binne die konteks van korporatiewe joernalistiek is waar daar slegs met interne belangegroepe gekommunikeer word. 

Dit is interessant om daarop te let dat die volgende riglyne wat deur Ferreira & Staude (1991:45-46) in Write angles-the abc for house journals aan korporatiewe joernaliste vir onderhoudvoering en profielskrywery in personeelblaaie of nuusbriewe gegee word grootliks ooreenstem met die riglyne wat aan die gewone joernaliste vir berigte in koerante of artikels in tydskrifte gegee word, naamlik:

  • Doen navorsing oor die persoon en sy/haar ondervindingsveld voor die onderhoud.
  • Daag stiptelik vir die onderhoud se afspraak op.
  • Berei jou vrae met die 5 W’s en die H in gedagte voor.
  • Hou die onderhoud verkieslik binne die persoon se tuisgebied om meer inligting oor sy familie- en gesinslewe op ‘n subtiele wyse te kan bekom. 
  • Stel die persoon op sy/haar gemak deur hom/haar iets te vra wat heeltemal onverwant tot die betrokke onderhoud is.
  • Neem altyd notas selfs al het jy ‘n rugsteun in die formaat van ‘n bandopnemer byderhand.
  • Verkry ‘n mengsel van feite en opinies oor die ondervraagde persoon om ‘n interessante profiel oor hom/haar te kan skryf.
  • Plaas direkte aanhalings binne aanhalingstekens om te verhoed dat die ondervraagde persoon buite konteks aangehaal word of dat ‘n opinie aan hom/haar toegeskryf word wat nie aan hom/haar behoort nie. 
  • Respekteer die vertroulikheid van die persoon met wie jy die onderhoud voer.
  • Merk die belangrikste feite of goeie aanhalings terwyl jy notas neem sodat jy jou profiel oor die betrokke persoon later makliker sal kan struktureer. 
  • Vra oop-einde vrae waarvan die antwoorde nie slegs ‘n ja of ‘n nee kan wees nie as die persoon met wie jy die onderhoud voer ‘n bietjie traag is om met jou te gesels.
  • Vra altyd die persoon met wie jy die onderhoud voer om die name van mense en plekke asook enige tegniese terme vir jou te spel om onnodige foute te verhoed.
  • Maak seker dat jy die onderhoud se konteks reg begryp het wanneer die afgespreekte tyd verby is om enige latere misverstande uit die weg te ruim. 

 

Die skryf van profiele kan help om die volgende doelwitte van die personeelblad of nuusbrief binne die korporatiewe joernalistieke omgewing te bevorder, naamlik:

  • Dit erken die prestasies van die personeel.
  • Dit motiveer die personeel van die organisasie.
  • Dit bevorder trots in die organisasie.
  • Dit moedig die werknemers aan om meer betrokke te raak by die organisasie. 

Die korporatiewe joernalistiek spits hom meer op die interne belangegroepe van ‘n spesifieke organisasie toe terwyl die gewone joernalistiek hom weer meer op die eksterne belangegroepe van die breë publiek toespits.  Daar kan egter ten spyte hiervan steeds tot die gevolgtrekking gekom word dat die riglyne en formaat daarvan nie te veel van mekaar verskil nie aangesien daar binne elke teikenmark belangrike persone is oor wie onderhoude gevoer kan word waarby hul lesers ‘n belang sal hê.

‘n Vergelyking tussen die faktore wat die nuuswaardigheid van ‘n storie bepaal binne die populêre joernalistiek en die korporatiewe joernalistiek (Leoné Prinsloo – 22086706)

Die leuse binne die populêre joernalistiek is “If it bleeds, it leads” wat hulle fokus op harde nuus met ‘n dikwels meer negatiewe inhoud beklemtoon terwyl die joernaliste binne die korporatiewe omgewing weer geneig is om op meer sagte nuus met ‘n positiewe inhoud te fokus in ‘n poging om die moraal van die organisasie se werknemers te kan opbou.  Die nuuskriteria wat binne die populêre joernalistiek gehandhaaf word, naamlik “Nuus is enigiets wat mense aan die praat sal kry,” vind gestalte in aspekte soos nuutheid, ongewoonheid en bekendes asook impak bestaande uit ‘n afstandsdimensie en ‘n intensiteitsdimensie sowel as konflik binne magstryde, politieke gevegte of sportgebeure wat meestal ook op die korporatiewe joernalistiek van toepassing is.  Hierdie nuuskriteria sal egter binne die konteks van die korporatiewe joernalistiek vertaal kan word as nuwe uitvindings of verwikkelinge binne die organisasie, ervarings van kollegas waardeur die status quo van hulle alledaagse werkskedules omver gewerp kan word, opwindende verrassings wat deur die bestuur van die organisasie vir die werknemers gereël is, die beklemtoning van die topbestuur se prominente posisie binne die hiërargie van die organisasie en konflik tussen die topbestuur en die werknemers waaroor berig moet word.

Die volgende aanhalings binne die populêre joernalistiek sal vervolgens elke keer met die toepaslike doelwitte van ‘n personeelblad of nuusbrief van die korporatiewe joernalistiek in verband gebring word om hierdie vergelyking te vervolmaak, naamlik:

“Nuus is enigiets wat ‘n leser laat sê Gee Whiz…” – Randolph Hearst, Amerikaanse koerantmagnaat.

  • Dit versterk of beklemtoon boodskappe.
  • Dit fasiliteer kommunikasie.
  • Dit moedig werknemers aan om betrokke te raak.
  • Dit laat die werknemers op die organisasiekultuur asook op hulle planne of besluite inkoop.

“Nuus is die eerste rowwe weergawe van die geskiedenis” – Philip Graham, uitgewer van die Washington Post

  • Dit verskaf ‘n permanente rekord van gebeure in die organisasie.
  • Dit erken die perestasies van die personeel.
  • Dit bevorder trots in die organisasie.
  • Dit lig werknemers oor die planne en besluite van die organisasie in.

“Nuus is iets wat iemand êrens wil onderdruk” – Lord Northcliffe, Britse koerantbaas

  • Dit beklemtoon of versterk boodskappe.
  • Dit fasiliteer kommunikasie.
  • Dit bevorder ‘n oop verhouding tussen die topbestuur en ander werknemers.
  • Dit kweek ‘nbegrip vir die organisasie se behoeftes.

Die hantering van pre-eksamen stres

Die lewe van ‘n student is baie opwindend…verseker! Maar dit kan ook baie stresvol en gedruk wees.  Baie moet gedoen word in ‘n beperkte aantal tyd. Ons sien dit veral nou voor die eksamens waar almal skarrel om die laaste klomp opdragte en toetse klaar te kry.  Ek het dit goed gedink om ‘n paar vinnige wenke vir die hantering van akademiese stres oor te dra:

1.  Identifiseer die bron van stres.  Stel vas watter van die bronne beheerbaar is en watter nie.

2.  Antisipeer stresvolle gebeure en beplan vooruit! Om prioriteite te stel en goeie beplanning toe te pas, kan baie stres elimineer.

3.  Verander jou denkwyse en kweek positiewe houdings.

4.  Pas jou gedrag aan om gesonder en meer gebalanseerd te lewe.

5.  Kyk watter omgewingsveranderlikes moontlik jou negatief kan affekteer en verander dit! Byvoorbeeld sit jou foon af as jy leer en gaan slaap vroeër.

Nadia van den Berg – 21863709

Die skryf van ‘n profiel

Die skryf van ‘n profiel

 

WENKE:

– gaan noukeurig deur ander joernaliste se profiele.

-kyk hoe ander joernaliste hulle ondrhoude uitle sodat dit maklik lees en vloei.

-maak seker jy vra interessante vrae.

-probeer inligting kry wat niemand anders weet nie.

-skryf ‘n treffende intro om die leser aan te moedig om die artikel te lees.

-skryf ‘n treffende kop.

Die bladuitlegproses van Media24-koerante in die Oos-Kaap (Leoné Prinsloo – 22086706)

Ek het met Tanya van Heerden, ‘n bladuitlegkunstenaar, joernalis en fotograaf by OP-koerante vanuit die Media24-stal gaan gesels oor wat haar daaglikse skedule behels en dis wat sy oor die vreugdes en frustrasies van haar werk te sê gehad het.

Die verslaggewers stoor die stories wat hulle geskryf het asook die fotos wat hulle geneem het onder ‘n ID bestaande uit hulle voorletters en ‘n sleutelwoord van die inhoud op die Media24-netwerk waarna die redakteur ‘n nuuslys met stories in die belangrikheid van volgorde daaruit saamstel om die stories op die bladsy te kan organiseer.  Die DTP-operateurs stuur advertensies soos ontvang of ontwerp na die bladbeplanners wat die organisering daarvan met die redaksie bespreek.  Die bladbeplanners verskaf ‘n uitdruk van die bladplanne met advertensies ingesluit aan die redakteur wat dit onder ons bladuitlegkunstenaars verdeel om die stories en die fotos volgens die nuuslys daarop te plaas.

“Ek maak van paragraafstyle gebruik om aspekte soos lettertipes, lettergroottes, letterstyle, spasiërings, leading en kerning van die berigte se koppe, inleidings, naamlyne en lyfteks asook die fotos se onderskrifte volgens Media24 se spesifikasies te formateer alhoewel ek tog ‘n mate van vryheid met betrekking tot die gebruik van kleurskemas toegelaat word.

“Dit neem ons gemiddeld ‘n dag en ‘n half om al veertig bladsye van ‘n uitgawe te voltooi waarna die subredakteurs dit vir enige foute kontroleer en dan aan ons terugstuur met ‘n aanduiding van die korreksies wat uitgevoer moet word voordat ons dit vir finale kontrole na die redakteur kan stuur,” verduidelik sy.

Die DTP-operateurs wat dit van die redakteur ontvang, kontroleer dat die lettertipes, -groottes, -style, fotos en grafika in die ontwerp en uitleg daarvan aan die drukkery se kwaliteitstandaarde voldoen voordat dit na die verkoopsafdeling gestuur kan word.  Sy verduidelik dat die beplanning en uitleg van die publikasie op ‘n modulêre wyse benader word deur die verskillende elemente in blokke te plaas en die res met fillers oor die publikasie se beleid te vul.  “Lettertipes, -groottes, -style, fotos en grafika in ‘n ontwerp is soos ‘n legkaart se stukke wat alles perfek moet pas om kontras, balans, ritme, proporsie, eenheid en kleur in enige ontwerp te kan verseker.”

Terminologie in die vlakdrukroses (Leoné Prinsloo -22086706)

Hierdie inligting mag dalk vir jou as bladuitlegkunstenaar baie tegnies en baie oorbodig klink, maar dis egter baie belangrike jargon om met die ontwerp van bladsye vir ‘n korporatiewe nuusbrief of inhuisjoernaal in gedagte te hou.

Die vlakdrukproses bestaan uit die volgende meganismes, prosesse en persone, naamlik:

inkfountain solution – Die beginsel wat bepaal dat die ink op die rollers word wel vanaf die metaalplate deur die papier geabsorbeer word, maar dit raak nooit regtig heeltemal droog nie.

impositions – Dui aan hoe die bladsye veronderstel is om op die rolpers geplaas te word.

paginations – Berekenings oor die hoeveelheid bladsye wat ingevoer moet word.

adhesive packaging – Die medium waarmee die metaalplate met die ontwerpe daaraan aan een van die twee silinders op die drukpers vasgemaak word.

registrasies – Die manier waarop die kleure oor mekaar op die drukpers lê.

machine minder – Die meganismes waarmee die kleurinstellings vir die drukwerk gedoen word om ‘n grys balans in die verdeling van die vier proseskleure te kan handhaaf wat aan die Europese Ink Standaard, ISO 12647-3 of Din16356 sowel as aan die beperking op die wit spasies deur die verskeie koerantonderlae soos 48 gsm moet voldoen.

greyscale bars – ‘n Vierkant van 3,5 mm by 3,5 mm per inksone wat in die geval van tabletformaatkoerante aan die kante van die bladsy en in die geval van breëbladkoerante onderaan die bladsye voorkom.

reelstand-operateur – Die persoon wat die rolle op die drukpers moet laai sodat ontwerpe volgens die impositions daarop afgedruk kan word.

inkfarm – ‘n Kamer in die drukkery met ‘n inkdrom vir elke proseskleur vanwaar dit deur pype aan die drukpers gekoppel is.

inkpump – Die meganisme waarmee dit vanaf die inkfarm na die inkduck vervoer word.

inkduck – Die meganisme waaroor die eerste silinder met under packaging en ‘n kombers rol na die tweede silinder met adhesive packaging en metaalplate daarop waar die kombers vol ink eers oor die plate en dan oor die papier rol om die teks en die beelde daarop te kan afdruk.

kite – Die meganisme wat die gedrukte koerante outomaties in die regte formaat sny.

folder – Die meganisme wat die reeds gesnyde koerante outomaties in die regte formaat vou.

stacker – Die meganisme wat die reeds gesnyde en gevoude koerante opstapel.

shrink wrap-tonnel – Die meganisme wat gebruik word om die reeds opgestapelde koerante in plastiek te verpak voordat dit deur trokke na die verskeie afsetgebiede vervoer kan word.

Wenke vir bladuitleg (Leoné Prinsloo – 22086706)

  • Hou die drukpers se voupanele en gryptange met die bepaling van die kantlyne se grootte in gedagte.
  • Kontroleer dat fotos wat gebruik word oor ‘n minimum effektiewe resolusie van 300 dpi beskik.
  • Sorg dat ‘n foto se dpi twee keer soveel soos die lpi daarvan vermenigvuldig met die persentasie van die oorspronklike grootte is as dit vergroot of verklein moet word.
  • Stoor alle lêers met grafika in CMYK-, TIFF- of EPS-lêerformaat.
  • Skakel enige grafika vanaf RGB, PANTONE, SPOT en LAB-kleure om na die CMYK kleurspasiëring.
  • Gebruik Tipe1 of Postscript versoenbare in plaas van ‘n True Type of ‘n MultipleMaster lettertipe.
  • Handhaaf ‘n minimum lettergrootte van 6 pt vir ‘n enkel soliede kleur in CMYK-formaat en ‘n minimum van 8 pt vir ‘n gekleurde teks op ‘n wit agtergrond.
  • Formateer ‘n klein serif lettertipe op ;n vierkleurige blok na ‘n lettertipe van 12 pt in vetdruk.
  • Vermy die gebruik van swart teks saamgestel uit veelvoudige kleure asook fyn wit teks op ‘n multikleurige agtergrond.
  • Verskaf ‘n voorbeeld van die ontwerp in die publikasie se finale grootte met crop marks en bleeds daarop in harde kopie saam met die PDF/X1-lêer aan die drukkery.

Die etiese status van korporasies

Daar ontstaan deesdae ‘n groot filosofiese bespreking rondom die etiese status van korporasies en korporatiewe entiteite.  Die meeste korporasies weet dat hul ‘n verantwoordelikheid het teenoor hul aandeelhouers en dan ‘n bietjie –indien enige- teenoor die groter gemeenskap.  Die kwessie van korporatiewe verantwoordelikheid kom gewoonlik onder die publiek se aandag wanneer ‘n korporasie optree in ‘n manier wat die publiek voel eties onverantwoordelik is.  Hierdie kwessie het bv. aan die lig gekom op ‘n ongewone wyse toe Visa, Mastercard en PayPal almal hul donasies aan die (berugte) Wikileaks geblok het.  Die gedagte is dat hierdie korporasies, nes elkeen van ons die reg het op ‘n opinie oor die etiese aspekte van WikiLeaks.  So byvoorbeeld moet dié wat dink dat dit ‘n gevaar vir die regering en samelewing inhou, nie donasies maak aan hierdie webtuiste nie. Hierdie is slegs een voorbeeld, maar dit wys vir ons dat korporasies sulke etiese aspekte moet in gedagte hou omrede dit direk ‘n impak het op hul korporatiewe identiteit…na my mening anyhow.

Nadia van den Berg:  21863709

‘n Goeie nuusstorie

‘n Goeie nuusstorie moet ‘n goeie en treffende kop he, dit moet die leser se aandag trek en hom prikkel om die nuusstorie te wil lees.

Dit moet vir die leser duidelik wees oor wat die nuus in die storie is.

Die nuusstorie moet die 5 W’s en die H bevat.

Die nuusstorie moet ook netjies en profesioneel uiteengesit word en maklik leesbaar en verstaanbaar wees.